Die Gereformeerde kerk Middelburg, Kaap is die oudste gemeente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika op die Oos-Kaapse dorp Middelburg en die tweede oudste gemeente, naas Burgersdorp, van dié Kerkverband in die voormalige Kaapprovinsie.
Die stigting van die gemeente
Op 21 Januarie 1860 het ds. Dirk Postma die Gereformeerde kerk Burgersdorp gestig. Middelburgse beswaardes het van sy besoek gehoor en hom na Grootfontein genooi, waar hy in Februarie 1860 ’n groot byeenkoms toegespreek het. Baie wou hê hy moes hulle dadelik as Gereformeerde kerk herstig, maar hy het gewaarsku teen ’n oorhaastige besluit. Tog het vyf gesinne reeds toe aangesluit, bewus van die opoffering en stryd wat voorlê.
Elf maande later, op 1 Desember 1860, is die Gereformeerde Kerk Middelburg gestig met sowat 250–300 lidmate. Vir ds. W. Murray van die NG Kerk was dit ’n swaar slag, veral omdat sy ouderling en gasheer, H.T.J. van der Walt, by die Gereformeerdes aangesluit het. Hoewel Murray goedgesind gebly het, was ander, soos sy skoonsuster Emma Murray, openlik vyandig teenoor die “Doppers”. Die eerste notuleboeke van die kerkraad (tot 1869) het nooit bewaar gebly nie.
Hoewel die eerste leraar eers in 1869 bevestig is, is daar reeds vroeër pogings aangewend om ’n predikant te beroep. ’n Beroepsbrief aan ds. J. Beyer van Reddersburg (1863) het hom eers maande later bereik, en hy het uiteindelik bedank omdat sy gemeente hom dringend versoek het om te bly.
Intussen is met groot toewyding aan die kerkgebou gewerk. Lidmate het mildelik bygedra en selfs hul waens, osse en arbeid beskikbaar gestel. In 1868 is ’n preekstoel teen £140 laat maak—gedeeltelik in kontant en gedeeltelik in skape—’n teken van die deeglikheid en opoffering waarmee die jong gemeente die Here se werk gedra het.
Eerste leraar
In die eerste jare ná die stigting van die gemeente is die herderlike werk hoofsaaklik deur ds. D. Postma van Burgersdorp waargeneem. Die oudste bestaande notule, gedateer 29 April 1867, vermeld dat die kerkraad onder sy leiding ’n beroep op student M.P.A. Coetsee, “student bij den Leeraar Postma”, uitgebring het. Drie maande later aanvaar hy die beroep, maar is eers op 6 Augustus 1869 bevestig—waarskynlik omdat hy sy studie moes voltooi.
Sy traktement het bestaan uit £300, 100 hamels, 20 mud meel, brandstof en ’n vrye woning, asook die helfte van die trougeld. Dit was vir die gemeente ’n groot vreugde om ná byna nege jaar hul eerste eie leraar te ontvang. Ds. Coetsee het onmiddellik begin om die gemeente te organiseer: twee ouderlinge en twee diakens moes elke erediens bywoon, en by sy afwesigheid sou die ouderlinge godsdiensoefeninge lei. Die diakonie is ook volledig ingerig, met ’n kassier vir die diakonale fonds en een vir die boufonds.
Die Kerkgebou
Met ds. M.P.A. Coetsee se aankoms het daar nog ’n aansienlike skuld op die kerk en pastorie gerus—£771-8-0, ’n bedrag wat die kerkraad groot kommer besorg het. Die geld was by lidmate geleen, en in Mei 1873 kon die gemeente met dankbaarheid rapporteer dat £172 aan B. Vorster en £100 aan G. van der Walt terugbetaal is. Die oorblywende £75 het klein gelyk, maar in daardie tyd was geld uiters skaars. Daarom was die vreugde groot toe die gemeente, dertien jaar ná sy stigting, uiteindelik ’n skuldvrye kerkgebou besit het.
Nauurlik het die werk nie daar geëindig nie. Kort ná die afbetaling is besluit om die kerk van buite te laat pleister. Vroeg in 1874 is tenders gevra vir die werk—“de gevels met sement en de muren met kalk”—en ’n tender van £250 is aanvaar. Die diakens, wat dikwels moes kollekteer, het weer die leiding geneem. Die pleisterwerk is in 1875 voltooi, en in Februarie 1876 kon die kerkraad met blydskap rapporteer dat ook hierdie bedrag vereffen is, met selfs ’n klein surplus van £64.
Meer as anderhalf eeu later aanbid die gemeente steeds in dieselfde gebou—die oudste Gereformeerde kerkgebou wat nog in gebruik is.
BRON: Wikipedia
Drag and Drop Website Builder