Die kerkgebou met die saal links daarvan. Die kerk is ingewy op 14 September 1862
Met ds. M.P.A. Coetsee se aankoms het daar nog ’n aansienlike skuld op die kerk en pastorie gerus—£771-8-0, ’n bedrag wat die kerkraad groot kommer besorg het. Die geld was by lidmate geleen, en in Mei 1873 kon die gemeente met dankbaarheid rapporteer dat £172 aan B. Vorster en £100 aan G. van der Walt terugbetaal is. Die oorblywende £75 het klein gelyk, maar in daardie tyd was geld uiters skaars. Daarom was die vreugde groot toe die gemeente, dertien jaar ná sy stigting, uiteindelik ’n skuldvrye kerkgebou besit het.
Nauurlik het die werk nie daar geëindig nie. Kort ná die afbetaling is besluit om die kerk van buite te laat pleister. Vroeg in 1874 is tenders gevra vir die werk—“de gevels met sement en de muren met kalk”—en ’n tender van £250 is aanvaar. Die diakens, wat dikwels moes kollekteer, het weer die leiding geneem. Die pleisterwerk is in 1875 voltooi, en in Februarie 1876 kon die kerkraad met blydskap rapporteer dat ook hierdie bedrag vereffen is, met selfs ’n klein surplus van £64.
Meer as anderhalf eeu later aanbid die gemeente steeds in dieselfde gebou—die oudste Gereformeerde kerkgebou wat nog in gebruik is.
Kerkgebou te klein
Dat die kerkgebou te klein vir die gemeente geword het, blyk uit die verskillende voorstelle wat gedurende 1898 voor die kerkraad gedien het. Daar was sprake van 'n nuwe kerkgebou op te rig of om galerye in die bestaande gebou aan te bring. Laasgenoemde plan is uitgevoer: die galerye is in 1899 gebou en op 30 Maart 1900 kon die kerkraad die voltooide werk inspekteer. Daar is bepaal dat die linkervleuel deur die susters en die regtervleuel deur die broeders gebruik word. In 1899 is die winkel van Chas. du Plessis langs die kerk vir £1 500 deur die gemeente aangekoop. (Dis die erf waarop die vorige en die huidige kantoor gebou is). Die koste van hierdie aangekoopte erf en die bedrag wat vir die galerye betaal is, het 'n swaar skuldelas op die gemeente geplaas.
Drag and Drop Website Builder